Abstract
M.A.
Primere doelstelling
'n Sosiolinguistiese beskrywing van die taalgebruik van wingerdwerkers, wat 'n relatief
eentalige, homogene taalgemeenskap is.
Sekondere doelstellings
Die saamstel van 'n wingerd-leksikon.
Die gee van 'n transkripsie van dele uit Bacchus in die Boland op grond van die
veranderlike uitspraakvorme wat deur die navorsing vasgestel is.
'n Voorondersoek is eers onderneem om to bepaal of hierdie spesifieke groep sprekers se
taalgebruik enigsins uniek is as dit vergelyk sou word met die ondersoeke wat reeds op die
gebied in ander bruin gemeenskappe gedoen is.
Gedurende die voorondersoek is slegs met 'n paar respondente gesels (twee manlike
wingerdwerkers op die wynplaas Louwshoek, drie manlike wingerdwerkers op die wynplaas
Merwida en een manlike wingerdwerker op die wynplaas Klein Pokkraal). Daar is ook
vroulike wingerdwerkers, maar die onderskeie plaasbestuurders het telkens voorgestel met
wie gesels moes word, omdat die werkers volgens hulle "baie geselserig" is. Die werkers
wat deur hulle vir onderhoude uitgewys is, was almal manlik. Tydens die hoofondersoek is
onderhoude met vroulike wingerdwerkers sowel as met kinders van die werkers gevoer. Al
die onderhoude is op band geneem.
Onderhoude wat op band geneem word, is the heeltemal natuurlik the, want "Interview
speech is formal speech" en "monitored and controlled in response to the presence of an
outside observer." Die
ondersoeker het as vreemdeling (slegs bekend gestel aan respondente kort voor die
onderhoude, wat wel vooraf gereel is en waartoe respondente toestemming verleen het) met
'n bandopnemer opgedaag en informeel met werkers probeer kommunikeer. Sommige
respondente was ontspanne en het gemaklik op vrae reageer, terwyl ander duidelik
ongemaklik was met die ondersoeker en die bandopnemer. Hierdie ongemak het veroorsaak
dat respondente vrae in kort, eenvoudige sinne beantwoord het of baie sag of binnensmonds
gepraat het. Dit het aanvanklik 'n in diepte studie van die wingerdwerkers se taalgebruik
bemoeilik.Om hierdie rede is tydens 'n volgende ondersoek op 'n gemakliker basis met respondente
kommunikeer. Tydens die hoofondersoek is genoemde probleme grootliks uitgeskakel deur
die respondente se taalgebruik sover moontlik in hul natuurlike sosiale konteks te bestudeer.
Bandopnames is gemaak tydens interaksie met familielede en vriende asook tydens sosiale
geleenthede. 'n Ooglopende oplossing was om tydens hul werksure in die wingerde na die
respondente te gaan luister. Hierdie projek was baie tydrowend, maar beslis lonend,
aangesien die sprekers in 'n vertroude omgewing en situasie tussen bekendes is en sodoende
is juis hul alledaagse, natuurlike taalgebruik op band vasgele. Hierdie situasie was ideaal vir
die studie, aangesien dit meer spesifiek handel oor die taalgebruik (uitspraak, woordvorme,
leksikon en sintaktiese vorme) van die wingerdwerkers in die aangeduide omgewing.
Tydens die voorondersoek is vasgestel dat hierdie groep sprekers se taalgebruik verskille
vertoon van die van ander bruin gemeenskappe, hoofsaaklik wat hul leksikon en
omgangstaal betref, en dit was ook opvallend dat hierdie groep sprekers net oor 'n
informele styl beskik.