Abstract
Nuwe verse, N.P. Van Wyk Louw se vierde digbundel, verskyn in 1954 en word as vernuwend en rigtingverskuiwend in die Afrikaanse poësie ontvang. As bydrae tot die perspektiewe rondom Louw en die Afrikaanse poësie, word Nuwe verse, en fasette daarin wat in die tydgenootlike resepsie daarvan as vernuwend opgemerk is, as vertrekpunt geneem. Hierdeur kom die resepsie van Nuwe verse en die bydrae wat die bundel tot die Afrikaanse poësietoneel teen die tweede helfte van die vorige eeu gelewer het, opnuut onder die aandag. Die tersaaklikheid word ook uit-gebrei tot meer as 'n hernude beskouing van vernuwende bydraes van Louw se poësie. So word aangevoer dat fasette van Nuwe verse wat teen die helfte van die vorige eeu as vernuwend beskou is, steeds terug te vind is as opmerklik van die poësie aan die begin van die derde millennium. Wanneer sy voorlaaste digbundel verskyn, bevind Louw hom in Europa, waar hy vervreemding as gevolg van plekverplasing beleef, ten spyte van die voordele en uitdagings verbonde aan 'n universiteitspos, en dus hoofsaaklik in die afwesigheid van die uitdagings wat verbind word met migrasie om (gedwonge) politieke of ekonomiese redes. In Nuwe verse kan die neerslag van jeugherinneringe, soos in die bekende herinneringsgedig " Beeld van 'n jeug: duif en perd " , en ook die gebruik van herinnerde volksliedjies en taalgebruik uit die digter se jeugjare in die Roggeveld, verbind word aan 'n reaksie-in-poësie op vervreemding. Kritiese waarderings van Nuwe verse maak dan ook meermale melding hiervan. Nuwe verse as bundel wat gedeeltelik geskryf is uit 'n situasie van plekverplasing en die belewing van vervreemding, word hier herbesoek met fokus op die noue verband tussen die vervreemding wat Louw in Europa beleef het en die neerslag hiervan in die verwerking van jeugherinneringe, wat in " Klipwerk " ook vervleg is met die aanwend van die herinnerde taal van sy jeug (Roggeveldse Afrikaans). Hierdie fasette is ook grootliks verantwoordelik vir die resepsie van Nuwe verse as vernuwend – in Louw se oeuvre en ook in die Afrikaanse poësie van die middel-1950's. In die eerste afdeling (1.1) word 'n kort oorsig van hierdie fasette en die resepsie van Nuwe verse as vernuwend, gegee. Die bydrae van hierdie herbesoek word