Abstract
M.Ed.
Hoofstuk een voorsien die agtergrond tot die navorsing asook ‘n beskrywing
van die probleme. Dit bevat die doel van die navorsing, die metodologie wat
gevolg is en gee ‘n uitklaring van konsepte wat in die navorsing gebruik is.
Hoofstuk twee fokus op ‘n uiteensetting van die onderwerp van die navorsing,
naamlik DIE ASSESSERING VAN OUERBETROKKENHEID AS ‘N ASPEK
VAN GEHEELSKOOL-EVALUERING. Die doel van die navorsingsprojek was
om te bepaal watter aspekte noodsaaklik is vir die doeltreffende
betrokkenheid van ouers by skoolbestuur. Om hierdie doel te verwesenlik is
‘n lite ratuurstudie onderneem wat as basis vir die empiriese navorsing gedien
het.
Die bespreking in hoofstuk twee handel oor die vernaamste vorme van
ouerbetrokkenheid, huis-en-skoolinteraksie, die impak van ouerbetrokkenheid
by skoolbestuur en die hantering van hindernisse vir doeltreffende
ouerbetrokkenheid. Die studie ondersteun die siening dat ouerbetrokkenheid
die perspektiewe van onderwysers verbreed en hulle sensitiwiteit vir die
uiteenlopende omstandighede van ouers verhoog. Deur die bevordering van
ouerbetrokkenheid kan onderwysers kennis en ‘n begrip van kinders se huise,
gesinne en buite -skoolbedrywighede bekom wat lei tot hoë vlakke van
akademiese prestasie by kinders.
Die ontwerp van die navorsingsprojek is in hoofstuk drie uiteengesit. ‘n
Beskrywing van die empiriese ondersoek is voorsien. Die vraelys is bespreek
en die verloop van die navorsing kortliks aangeraak. Al die vrae met
betrekking tot doeltreffende ouerbetrokkenheid het gelei tot gemiddelde
tellings tussen 3,73 en 4,59.
Die ontled ing en interpretasie van die empiriese data is in hoofstuk vier
bespreek. Die konstrukgeldigheid van die navorsingsinstrument is deur
middel van twee opeenvolgende faktoranalitiese prosedures ondersoek en
sodoende is die 40 items tot twee faktore gereduseer, naamlik:
· doeltreffende ouerbetrokkenheid bestaande uit 21 items met ‘n
betroubaarheidskoëffisiënt van 0,9129;
· doeltreffende kommunikasie bestaande uit 19 items met ‘n
betroubaarheidskoëffisiënt van 0,8924.
Die statistiese ontleding van die navorsing is beperk tot ‘n vergelyking van
een voorbeeld van twee onafhanklike groepe met een voorbeeld van drie of
meer onafhanklike groepe. Hipoteses is opgestel en multivariante statistieke
gebruik om die data te ontleed en te interpreteer. Na hierdie oorsigtelike
opsomming van die aspekte wat in die huidige navorsing aangeraak is, word
belangrike bevindings wat uit die navorsing voortspruit gemaak.
Prof. B.R. Grobler