Abstract
M.Ed.
Selfregulering is sinoniem met akademiese sukses en onafhanklike leer.
Selfgereguleerde leerders aanvaar verantwoordelikheid vir hul eie leer en vertoon ’n
groter mate van dieper leer as leerders wat nie selfgereguleer is nie. Selfregulering
word ook beskou as die blywendste en hoogs erkende uitkoms van leer. Opvoeders
het ’n deurslaggewende rol om te speel in die voorbereiding van leerders om op hul
eie te leer en in die voorsiening van ’n onderrigomgewing wat die gebruik van
selfregulerende prosesse sal kweek. Ondersteuning wat in kursusse ingebou is, kan
leerders se selfregulerende praktyke versterk en hulle help om onafhanklike leerders
te word. Ongelukkig is selfregulering ’n moeilike onderriguitkoms om te behaal en
baie leerders wat by hoëronderwysinstellings inskryf, beskik nie oor die nodige
selfreguleringsvaardighede om die eise van hul studie te hanteer nie.
Die literatuur het aangedui dat baie min studies uitgevoer is om te ontleed wat
opvoeders doen om selfregulering in hul kursusse te ondersteun. Die doel van hierdie
studie was om te bepaal in watter mate ondersteuning gebied word vir selfregulering
in ’n meestersgraadkursus in rekenaargesteunde onderwys. Die studie het begin met
’n verkenning van die begrip “selfregulering”. Selfregulerende leerstrategieë en
-prosesse wat met akademiese sukses en onafhanklike leer verband hou, is
geïdentifiseer en vir die ontwikkeling van ’n waarnemingskedule gebruik. Hierdie
waarnemingskedule is as die primêre instrument gebruik om die aanwesigheid of
afwesigheid van ondersteuning vir selfregulering in die genoemde kursus te bepaal.
Fokusgroep- en sleutelinformantonderhoude is gevoer om die leerders se persepsies
van die kursus en hoe hierdie persepsies hul leer beïnvloed, te bepaal. Die onderhoude
is as aanvullend by die gestruktureerde waarnemingskedule gebruik en is beskou as ’n
waardevolle hulpmiddel om die bevindings van die waarnemingskedule te bevestig.
Die bevindings van die studie toon duidelik waar ondersteuning vir selfregulering
aanwesig is en waar dit steeds ontbreek. Die ingeboude ondersteuning in die kursus
bied die leerders ruim geleentheid om die meeste selfregulerende leerstrategieë, maar
nie almal nie, aktief te gebruik. Daar is verder vasgestel dat die leerders se verhoogde
betrokkenheid by selfregulering oor die algemeen hul onafhanklikheid, akademiese
prestasie en leeroordrag skyn te verbeter.