Abstract
M.Cur.
Die idee waarmee hierdie studie 'n aanvang geneem het, het ontstaan vanuit my waarneming dat al hoe meer polisiebeamptes opgeneem word in die psigiatriese kliniek waar ek, die navorser
werksaam is. Hierdie polisiebeamptes vertel 'n storie van blootstelling aan talle traumatiese
situasies in die beoefening van hul beroep, waar geweld, misdaad, lewensgevaar en die dood vir
hulle bekende verskynsels is. Maar dit lei dikwels tot depressie, alkoholmisbruik en aggressie by
die polisiebeamptes. Hierdie probleme word, volgens polisiebeampes, dikwels vererger deur 'n
autokratiese bestuurstelsel in die SAPD, swak salarisse, 'n lae status in die gemeenskap en
ontoereikende fasiliteite. Die winde van politieke verandering wat sedert 2 Februarie 1990 deur
Suid-Afrika waai, verg van polisiebeamptes om sekere fundamentele aanpassings te maak en 'n
nuwe benadering tot polisiering te volg. Hierdie aanpassings word dikwels as moeilik ervaar.
Die gesinne van polisiebeamptes word dikwels direk geaffekteer deur al die genoemde faktore,
in die sin dat, die polisiebeampte se manier van "dink en wees" as polisiebeampte, sy interaksie
met sy gesin beInvloed.
Ek het dus gewonder hoe die gesinne van polisiebeamptes dit beleef wanneer 'n lid van die gesin
werksaam is as 'n polisiebeampte in 'n hoe-risiko metropolitaanse area in Gauteng. Geen studie
is voorheen hieroor uitgevoer nie.
Om hierdie vraag te beantwoord, het ek van 'n verkennende, beskrywende, kontekstuele en
kwalitatiewe navorsingsontwerp gebruik gemaak in die uitvoering van hierdie studie. Semigestruktueerde,
fenomenologiese onderhoude is gevoer met agt vroue van polisiebeamptes,
werksaam by 'n geIdentifiseerde polisiestasie in Gauteng. Die vroue is volgens die
sneeubalmetode geselekteer. Dit is gedoen nadat die nodige ingeligte toestemming van hulle
verkry is.
Stappe is deurgaans deur die studie geneem om vertrouenswaardigheid te verseker, volgens
Guba se model. Daar is ook verseker dat hierdie studie op 'n etiese wyse uitgevoer is, deurdat ek
myself laat lei het deur die Suid-Afrikaanse Verpleegstersvereniging se standaarde vir
verpleegkundige navorsers.
Die meta-teoretiese aannames wat hierdie studie rig, is verkry uit die Verplegingsteorie vir
Mensheelheid, waarvolgens die mens 'n geestelike wese is wat op 'n gentegreerde,
biopsigososiale wyse binne die gesin en gemeenskap funksioneer. Data is ontleed volgens die
metodes van Tesch en die dienste van 'n onafhanklike kodeerder is verkry. Sodoende is
ooreenstemming bereik oor die kategoriee en subkategoried van temas wat die storie van die
vroue so akkuraat as moontlik sou kon beskryf.
Die resultate het daarop gedui dat gebroke interaksie dikwels in die gesinne van polisiebeamptes
vookom. Hierdie interaksie word gekenmerk deur oppervlakkige, konkrete kommunikasie,
aggressie en fisiese, sowel as emosionele afwesigheid van die polisiebeampte in die gesin. Die
vrou neem dikwels sekere rolle in die verhouding aan en ervaar emosies van pyn, alleenheid,
woede, verwerping, vrees en onsekerheid.
Riglyne is beskryf wat moontlik kan lei tot die ondersteuning van die gesinne van
polisiebeamptes, deur die psigiatriese verpleegspesialis. Voorstelle vir die aanwending van die
resultate in die verpleegonderwys, -praktyk en —navorsing is gemaak.
Daar word tot die gevolgtrekking gekom dat die verkenning en beskrywing van die
beleweniswereld van die gesinne van polisiebeamptes, die psigiatriese verpleegspesialis instaat
kan stel om die gesinne te ondersteun in die mobilisering van hulpbronne en die gesin te
fasiliteer in die bevordering, handhawing en herstel van gesinsgeestesgesondheid as 'n integrale
deel van gesondheid.