Abstract
M.Ed.
Die koestering van diversiteit en medewerking is deel van die paradigmaskuif na ‘n postmoderne onderwysstelsel. Die vereistes van ‘n postmoderne
onderwysstelsel veroorsaak spanning (Hammeken, 2000:11) vir onderwysers
wat opgelei is vir onderwys binne die modernistiese onderwysstelsel. Ten einde
suksesvolle medewerking en die insluiting van al die leerders te kan bereik,
benodig die onderwyser ‘n verwysingsraamwerk met onderrigstrategieë waarop
gesteun kan word binne die Suid-Afrikaanse konteks.
Binne die Suid-Afrikaanse konteks het ons te kampe met die probleem van die
insluiting van ‘n geweldige persentasie leerders wat uit sosio-ekonomies
agtergeblewe omstandighede kom. Die wye verskeidenheid faktore wat op
hierdie leerders se ontwikkeling inwerk, speel ‘n rol in die hoë persentasie
leerbelemmeringe waarmee hierdie leerders tot die skool toetree (Donald,
Lazarus & Lolwana: 2002:285). Die ideaal om elkeen van hierdie leerders se
leerervaring en medewerking suksesvol te maak word deur onderwysers wat
geen opleiding ten opsigte van koöperatiewe leermetodes ontvang het nie, as
onbereikbaar beskou. Juis daarom is ek van mening dat die behoefte bestaan
aan werkbare onderwysstrategieë binne die Suid-Afrikaanse konteks.
Deur middel van my aksienavorsing in ‘n graad een klas wat bestaan uit leerders
uit sosio-ekonomies agtergeblewe omstandighede, het ek probeer om hierdie
behoefte aan te spreek. Om hierdie behoefte met die nodige insig te kan
aanspreek sluit hierdie verhandeling onder meer ‘n literatuurstudie in. Binne die
literatuurstudie verskaf ek die teoretiese begronding van my navorsing. Die
teoretiese agtergrond vir hierdie studie, wat fokus op postmoderne
onderwysmetodes, is gedek in die besprekings van klaskamerstrategieë wat
medewerking, sosio-emosionele aanpassings en koöperatiewe leer wat as
onderwysmetode gebruik is, bevorder.