Abstract
M.A. (Corporate Communication)
Kontemporêre organisasies beslaan tans ’n spanningsvolle bestaans- en betekenisruimte wat lei tot vrae rondom hoe betekenis (meaning) of kommunikasie (diskoers of taal) in ’n dialogiese organisasiekonteks ‘strategies’ bestuur kan word, wat met ’n onderliggende magstryd rondom voorstelling (representation) gepaardgaan. Vanuit ’n krities diskoersanalitiese oogpunt behels dit bevraagtekening rondom die rol van diskoers in veranderende sosiale praktyke (met ’n spesifieke belang in die dialektiese verhoudinge wat tussen semiose en ander sosiale elemente tot stand kom) wat met diskursiewe strydvoering gepaard gaan. Hierdie studie ontwikkel die konsep ‘vermengde vorm’ organisasies wat verduidelik word aan die hand van Morgan (1981) se skismatiese metafoor. Vermengde vorm organisasies word gesien as organisasies wat in ’n omvormingsproses gewikkel is en eienskappe van beide ’n burokrasie en postburokrasie vertoon. Dit word ook begryp as teoreties gesetel in die refleksiewe paradigma sowel as die reflektiewe paradigma in organisasiestudies, en filosofies beanker deur modernistiese en postmodernistiese denke. Dit is belangrik om veranderende organisasie- en kommunikasiepraktyke (of sosiale praktyke) te verken om sodoende vernuwende teoretiese insig en begrip te bewerkstellig van die kommunikasieprosesse (of diskursiewe prosesse) in die daarstelling van organisasies. Met ander woorde, die toenemende diskursiewe aspekte teenwoordig in die proses van organisering. Dit is ook relevant vir die genoemde redes om die idee van ‘vermengde vorm’ organisasies, die gepaardgaande ‘kommunikasieparadoks’, sowel as die spanningsvolle diskursief gedrewe mediasieproses tussen die burokratiese en postburokratiese elemente wat in veranderende organisasies teenwoordig is, toe te lig. Kritiese diskoersanalise (KDA) is as denksintrument in dié verken om verantwoording mee te doen vir organisasiediskoers in vermengde vorm organisasies op die filosofiese, teoretiese en metodiese vlakke. ’n Konseptuele model wat op die bogenoemde steun is ontwikkel en toegelig aan die hand van die Universiteit van Johannesburg (UJ). Die bevinding van hierdie studie is dat KDA wel die moontlikheid as denkinstrument bied om rekenskap mee te lewer van vermengde vorm organisasies, die gepaardgaande kommunikasieparadoks en die ideële stryd wat daaraan verwant is.