Abstract
M.Comm.
Die probleem vir die gebruikers van finansiele jaarstate is eerstens dat hul nie weet met watter oogmerk die state opgestel is nie. Dit maak dit moeilik om enige metode van ontleding van die state te gebruik, aangesien dit nie uit die opsteller se oogpunt gesien en verstaan word nie.
Tweedens het gebruikers die probleem dat hul nie 'n metode het om te bepaal tot watter mate hulle kan vertrou op 'n maatskappy se finansiële state, gebaseer op die doelwitte van die opsteller nie.
Die implikasie hiervan, veral vir beleggers, is dat die risiko met sekere beleggings geweldig kan vergroot sonder dat die belegger daarvan bewus is. Beleggers, finansierders en ander krediteure kan groot bedrae geld verloor, terwyl werknemers se werk in gevaar kan wees.
DOEL VAN DIE STUDIE
Die hoofdoel van die studie is om 'n model te ontwikkel waarmee die gebruikers van finansiële state kan vasstel of hulle op 'n maatskappy se finansiële syfers kan vertrou of nie.
Die sekondêre doelwitte van die studie, ten einde die hoofdoel te bereik, is as volg:
Die ontwerp van 'n vraelys wat gebruik kan word by die bepaling van die opsteller se oogmerk met die opstel van die finansiele state.
Die ontwerp van 'n Suid-Afrikaanse model om die gebruik van rekeningkundige ingenieurswese te bepaal.
Die ontwerp van 'n strategiese kontrolelys as verdere kwalitatiewe hulpmiddel om te bepaal of daar op syfers vertrou kan word of nie.