Abstract
M.Litt. et Phil.
Daar is 'n duidelike verskil tussen Jesus se prediking en die van die
Skrifgeleerdes en Fariseërs. Sy optrede en verkondiging was
belangrik vir elkeen van Sy navolgers, want Hy het sy getuienis in
Woord en Daad uitgeleef. Dus is die eiesoortigheid en besondere
daarvan buitengewoon.
Die aankondiging dat die koninkryk van God aangebreek het, bet 'n
basis gevorm vir Jesus se etiese prediking. Die Vader het sentraal
gestaan as inisieerder van die koninkryk, nou en toekomstig.
Die voorwaarde om die koninkryk te beerwe is bekering, wat 'n
totale ommekeer in die mens se lewe impliseer. Jesus was nie in
konflik met die wet nie, inteendeel Hy het die wet kom vervul. Die
klem val noodwendig op die Groot Gebod, naamlik die liefde vir God
en medemens.
Matteus het sekere sentrale verse beklemtoon om sy tema te
verduidelik waarvan, Matteus 5: 17 die sentrale tema vorm.
By nadere ondersoek word gevind dat Matteus uit 'n
Joods-Christelike gemeenskap spruit. Hy het doelbewus 'n sendingbewustheid by sy lesers gekweek. Daar was 'n sterk
wegbeweeg van die Joodse tradisies, na die koninkryk van
God.
Die Bergrede vorm 'n integrale deel van Jesus se aankondiging van
die koninkryk van God. Die rol wat die dissipels van Jesus in die
wêreld moet vertolk, word duidelik hierin weergegee. Daar moet
egter onderskeid getref word tussen die oorgelewerde wet en die
wet van God. Jesus het nie gekom om die wet ongeldig te maak nie,
maar om dit te vervul. Die vervulling lê daarin dat Hy aan die
eise van die wet kom voldoen het. Christus het deur sy lewe en
voorbeeld etiese standaarde gestel en gehandhaaf.
Etiek vereis van ons om te kies tussen reg en verkeerd sowel as tussen
goed en kwaad. Daar is nie eintlik situasies wat nie eties geregverdig
kan word nie. Daarom moet ons voortdurend onsself afvra hoe in
sekere situasies opgetree moet word. Die Bergrede word as 'n
hoogtepunt beskou in die etiese mileu, alhoewel dit nie altyd duidelik
begryp word nie. Die bron van hierdie etiese lering was Jesus self.
Dus is 'n etiese lewe meer as om net Christus se volgeling te wees, 'n
eenwording moet plaasvind.