Abstract
In sy resensie van Die jogger (1997), lê Conradie (1997:31) ‘n verband tussen drie belangrike
hoekstene van Afrikanerskap wanneer hy die hoofkarakter, Kilian, soos volg karakteriseer:
Die verwikkeldheid van die karakter Kilian word versinnebeeld deur die relaas van grondbesitter,
bywonerskap en uiteindelik amptenaar van die staat. Die siening word ook gehuldig dat bogenoemde
elemente vir ‘n tyd lank die goue draad van Afrikanerskap verteenwoordig.
Onderliggend aan al drie karakteriserings is die element van mag, asook die (geïmpliseerde)
verband tussen mag en identiteit. In Brink se Die jogger word identiteitsmites veral die fokus
van die dramatiese inhoud. Hierdie mites, wat hoofsaaklik verband hou met “mag”,
“godsdiens” en “seksualiteit”, is vooropgestelde elemente in die drama. Soos Wasserman
(1997:4) opmerk, is Kilian ‘n verteenwoordiger van ‘n bepaalde groep mans “met gesinne,
kerkgangers, omies wat Saterdae langs jou gesit en rugby kyk het”, maar ook in die naam van
‘n politieke bestel bepaalde wreedhede gepleeg het. Van dié wreedhede word in herinnering
geroep tydens Kilian se gedagtevlugte in die psigiatriese hospitaal.
Binne die konteks van die drama, kan aangevoer word dat “mag”, “godsdiens” en
“seksualiteit” sekerlik dié belangrikste identiteitsmerkers van die Afrikaner is. Die wyse
waarop bepaalde identiteitsmites binne die dramatiese handelingsverloop van Die jogger
gedemitologiseer word, lê hierdie studie ten grondslag. Kilian word in hierdie drama ‘n
eksemplaar van ’n karakter wie se mag verbrokkel en waardeur die mites van die man – en
magsgesentreerde bestaan - geproblematiseer word. Die probleemstelling vir hierdie studie
kan dus omlyn word as die ontmitologisering van die gestalte van die man ná politieke
transformasie in Suid-Afrika. As gewese kolonel in die Veiligheidspolisie, is Kilian ‘n
voorbeeld van ‘n Afrikaner(man) wie se mag vanweë grootskaalse politieke
magsverskuiwing gestroop is.
Dr. M.P. Beukes