Abstract
D.Ed.
Die herstrukturering van Tegniese Kolleges tot Verdere Onderwys- en
Opleidinginstellings in Gauteng, en in Suid-Afrika as 'n geheel, moet gesien word teen
die agtergrond van transformasionele veranderings wat in die hele land plaasvind. Sedert
1994 het die hele land 'n transformasieproses ondergaan nadat 'n nuwe demokratiese
regering oorgeneem het en verander het van 'n apartheidstelsel tot 'n verenigde
demokratiese samelewing. Onderwys is ook nie onaangeraak gelaat deur die
transformasieproses nie. Die hele onderwysstelsel, wat hoer onderwys, algemene
onderwys en verdere onderwys insluit, is hierdeur geraak. Die fokus van hierdie
navorsing is the Verdere Onderwys- en Opleidingsektor wat Tegniese Kolleges insluit.
Met ander woorde, Tegniese Kolleges is net deel van die wyer Verdere Onderwys- en
Opleidingsektor. Ander voorsieners van Verdere Onderwys- en Opleiding (VOO) sluit
hoerskole wat Grade 10 to 12 aanbied, private voorsieners en indiensopleiers in.
Seksie 29 (1) (b) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (SA, 1996) maak
voorsiening daarvoor dat almal die reg tot verdere onderwys het wat die staat, waar
redelik moontlik, meer en meer sal voorsien en toeganklik sal maak. In 1998 is die VOO
Wet No. 98 (SA, 1998) aanvaar wat as die wetlike basis vir die transformasie van die
VOO-sektor dien. Hierdie Wet bemagtig onder andere Lede van die Uitvoerende Rade in
elk van die nege provinsies van Suid-Afrika om hulle VOO landskappe te herstruktureer.
As deel van hierdie proses kon hulle Tegniese Kolleges tot Verdere Onderwys- en
Opleidingsinstellings verklaar, laat saamsmelt of sommiges self sluit.
Die 33 Tegniese Kolleges in Gauteng is verklaar tot Verdere Onderwys- en
Opleidingsinstellings en later het 32 van hierdie kolleges saamgesmelt tot 8 groter
kolleges. Om suksesvol te wees het die hele herstruktureringsproses behoorlike bestuur
vereis. Die proses is op verskeie vlakke bestuur, naamlik op nasionale, provinsiale en
instellingsvlak. Hierdie navorsing ondersoek die bestuur van hierdie
herstruktureringsproses.