Abstract
As dit die doel van handel tussen die EU en Suider-Afrika is om ontwikkeling teweeg te bring, is
dit eerstens nodig om te verstaan wat bedoel word met die konsep ontwikkeling en hoe dit beskryf
word deur verskillende teorieë. Die aandag in hierdie studie sal slegs val op makroteorieë tot
ontwikkeling, vanweë die belang daarvan vir die rol van handel in ontwikkeling. Die verskillende
teorieë oor die verband tussen handel en ontwikkeling moet ook ondersoek word. Wat duidelik sal
blyk, is dat handel wel ‘n rol het om te vervul in ontwikkeling, en veral armoede-uitwissing en
ongelykhede bekamp, maar dat die tipe handelsverhouding bepalend is. Daar is in hoofsaak twee
standpunte oor die rol van handel: dié wat vrye handel sien as ‘n bron vir ontwikkeling, en dié wat
handel beskou as moontlike ‘n bron vir ontwikkeling, maar nie binne die huidige ekonomiese en
politieke wêreldstruktuur nie. Die standpunte verskil dus oor die rol van vrye handel in
ontwikkeling. Hierdie studie steun laasgenoemde standpunt; hierdie standpunt sal deurlopend in
hierdie hoofstuk en ook breedweg in die verhandeling gemotiveer word (sien ook 2.4 hieronder).
Die verskillende handelstrategieë wat gevolg kan word om ontwikkeling te bereik, sal ook
bespreek word met oog op die relevansie daarvan vir die tipe handelsverhouding met die EU wat
ontwikkeling in Suider-Afrika kan aanhelp.
Prof. C.J. Maritz