Abstract
Tans is die keuse van moedertaalonderrig in Suid-Afrikaanse skoolgemeenskappe ʼn kontensieuse aangeleentheid in die onderwyssektor. Daar is internasionale en nasionale navorsing wat duidelik aandui wat ’n belangrike rol moedertaalonderrig gedurende die vroeë skooljare vervul (Alexander, 1989; Alexander, 1990; Baker, 1988; Baker & Garcia 1996; Cummins, 1980; Cummins, 1984; Heugh, 2002; Krashen, 1996; Liddicoat, 1991; Makoni, 1998; Skutnabb-Kangas, 2000). Alhoewel moedertaalonderrig beskou word as ʼn belangrike waarborg vir akademiese sukses, kan dié onderrigbenadering nie as die enigste bepalende faktor vir akademiese leerderprestasie beskou word nie.
Die fokus van die navorsing is om te ondersoek waarom Afrikaans-moedertaalsprekers van histories bruin agtergestelde skoolgemeenskappe sukkel om akademiese sukses te bereik. Die ondersoek het ten doel om te bepaal wat presies die verwantskap tussen moedertaalonderrig en ander faktore wat leerderprestasie beïnvloed, is. Bestaande navorsing fokus nie op die interaksie tussen moedertaalonderrig en die veranderlikes in die onderrig- en leerpraktyk nie. Volgens Plüddeman (2006), Webb, (2006) Taylor, Van der Berg en Mabogoane, (2013) word die argumente aangaande die medium van onderrig ook nie behoorlik in die skoolpraktyk verreken nie.
Die doel van die navorsing kan soos volg opgesom word:
a) Om die belangrikste eienskappe vir ʼn suksesvolle skool te identifiseer.
b) Om die rol van en wisselwerking tussen moedertaalonderrig en ander bydraende faktore te ondersoek en om vas te stel watter mate dit skoolprestasie beïnvloed.
c) Om vas te stel hoe moedertaalonderrig in verskillende skoolkontekste benader word.
d) Om die sistemiese faktore te bepaal wat akademiese prestasie beïnvloed.
e) Om aan die hand van bevindings doelgerigte aanbevelings te maak wat skoolprestasie in hierdie konteks kan bevorder.