Abstract
Openbaring is by uitstek die Nuwe-Testamentiese boek met die sterkste eskatologiese
aanslag. Dit is uit die boek Openbaring waaruit die meeste spekulasie en wederkomsteorieë
voortspruit. Wie is reg en wie is verkeerd? Sal ons ooit versekering hieroor
kan vind? Is daar nie ’n eenvoudiger manier waarop ons onsself kan voorberei op die
wederkoms van Christus nie? In die plek van spekulatiewe wederkomsteorieë, mag
etiese riglyne dalk meer aanvaarbaar wees.
Hierdie studie stel hom ten doel om die etiese motief van Openbaring te ondersoek as
werkbare, kontemporêre en etiese riglyn ter voorbereiding van die kerk van Christus
op die paroesie (wederkoms van Christus).
Dié perspektief is belangrik omdat dit aan die Christen ’n etiese riglyn voorsien wat
krities geanaliseer is ten opsigte van moontlike faktore wat ’n invloed op die
interpretasie daarvan kan hê.
Die vraag wat ondersoek word is of etiese riglyne uit die boek Openbaring, ’n meer
aanvaarbare riglyn aan die kerk van Christus kan verskaf as die me nigte spekulatiewe
wederkomsteorieë.
Die doel van hierdie studie is dus om universele etiese riglyne uit die boek
Openbaring te vind wat kan dien as kontemporêre etiese riglyne vir die kerk van
Christus ter voorbereiding op die paroesie. In die lig van die bevindings aangaande
die aanvaarbaarheid van etiese riglyne, sal sekere etiese motiewe voorgestel word as
primêre etiese riglyne aan die kontemporêre kerk ter voorbereiding op die paroesie.