Abstract
In praktyk word daar talle probleme met die rekeningkundige verantwoording van
ontasbare bates ervaar. Hierdie probleme kan in vier hoof kategorieë verdeel word naamlik
die identifikasie, erkenning, tydsgaping en meting van ontasbare bates (sien hoofstuk 2).
Van al hierdie probleme is die metingsprobleem die grootste, m.a.w behoort ontasbare
bates teen koste of teen billike waarde gemeet en in die state ingesluit te word? Daar is talle
argumente teen die gebruik van beide en díe word in detail in hoofstuk 2 uiteengesit.
Dit is die skrywer se mening dat billike waarde ‘n baie beter maatstaf vir sodaninge bates
is, omdat koste gebaseerde maatstawwe nie altyd relevant is nie. Die grootste kritiek teen
die gebruik van billike waarde -maatstawwe is egter dat dit onbetroubaar, ingewikkeld, duur
en wisselvallig kan wees. Daar is ook vrese dat die openbaarmaking daarvan nadelig vir
maatskappye se kompeterende voordeel kan wees.Die probleem wat rekeningkundiges in die gesig staar is dus eerstens om die kwalitatiewe
eienskappe van relevantheid en betroubaarheid teen mekaar op te weeg. Indien hulle tot die
gevolgtrekking kom dat relevantheid in hierdie geval belangriker is as betroubaarheid moet
die kwessies van koste, ingewikkeldheid en wisselvalligheid steeds aangespreek word.
Hierdie studie bestudeer benaderings en metodes om ontasbare bates teen hulle billike
waarde te meet, ten einde te bepaal of sodanige metodes wel die kritiek daarteen kan
oorkom, m.a.w. kan sodanige billike waarde -metodes wel ‘n betroubare, koste-effektiewe,
verstaanbare en stabiele aanwysing van waarde verskaf?
Prof. D Coetsee