Abstract
LL.D.
In hierdie studie word ondersoek ingestel na die beregbaarheid van sosiale
sekerheidsregte as 'n fundamentele reg wat deur die Grondwet verskans word. Die
konsep "sosiale sekerheid" is as fundamentele reg bekend gestel in die Suid-
Afrikaanse regsisteem deur die insluiting van die reg op toegang tot sosiale sekerheid
in artikel 27(1)(c) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika 108 van
1996. Artikel 27(1)(c) bepaal soos voig:
Elkeen het die reg op toegang tot sosiale sekerheid, met inbegrip van gepaste
sosiale bystand indien hulle nie in staat is om hulself en hul afhanklikes te onderhou
nie.
Artikel 27(2) bepaal soos voig:
Die staat moet redelike wetgewende en ander maatreels tref om binne sy beskikbare
middele elk van hierdie regte in toenemende mate te verwesenlik. Alhoewel die reg op sosiale sekerheid spesifieke vermeiding in artikel 27(1)(c) geniet,
bestaan daar ook ander regte in die Handves van Regte wat as vertakkings of
bepaalde risiko's van 'n sosiale sekerheidstelsel beskou kan word. Dit is die reg op
toegang tot mediese sorg, die reg op voedsel en water, die reg op toegang tot geskikte behuising, die regte van kinders op sorg, basiese voeding, skuiling, basiese
gesondheidsorg- en maatskaplike dienste. Wanneer daar dus na sosiale
sekerheidsregte verwys word, sal dit al bogenoemde bepalings insluit. Die term
"sosiale sekerheid" in plaas van "maatskaplike sekerheid" sal ook gebruik word
omdat eersgenoemde 'n wyer aanwending as Iaasgenoemde het.