Abstract
D.Ed.
Die motivering vir hierdie navorsing is die besef dat egskeiding 'n proses is wat
noodwendig krisis en wanbalans in die lewens van alle betrokkenes in die gesin tot
gevolg het. Dit kan die gesinslede etlike jare neem om weer aan te pas en
selfvertroue in hul nuwe rolle en verhoudings te kry.
Alle egskeidings word gekenmerk deur een belangrike eienskap, naamlik
verandering. Sommige veranderings begin voor die fisieke skeiding en ander duur
voort tot lank na die egskeiding. Verandering kan die klimaat in die gesin verbeter of
verswak, maar dit dwing kinders altyd om aan te pas. Die sielkundige effek van
egskeiding op kinders behoort dus op twee vlakke beskou te word. Die eerste vlak
van verandering is waar kinders aanpas by die omwenteling wat die egskeiding
meebring. In-diepte navorsing is reeds hieroor gedoen en toon dat die onmiddellike
aanpassing na egskeiding vir kinders minder spanningsvol is — veral indien daar
minder konflik en ontwrigting teenwoordig is. Die tweede vlak van verandering
behels kinders se langtermyn-sielkundige aanpassing.
Uit die literatuur is dit duidelik dat daar baie geskryf en gedoen is om ouers en
kinders onmiddellik na hierdie krisis by te staan. Daar is egter min navorsing gedoen
oor die langtermyneffek van egskeiding op kinders se lewens en hoe die egskeiding
moontlik tydens volwassenheid onverwerkte trauma en emosionele probleme kan
veroorsaak.
Die navorser het die veld met haar eie stone as vertrekpunt betree. Hierna is
fenomenologiese onderhoude met tien volwassenes tussen die ouderdomme van 28
en 35 jaar gevoer. Hul belewenis van hul ouers se egskeiding, wat tydens hul
kinderjare plaasgevind het, is verken en beskryf. Die resultate toon dat hierdie
volwassenes steeds worstel met onverwerkte wonde uit hul kinderjare,
voortspruitend uit hul ouers se egskeidings. Hierdie onverwerkte wonde uit hul
kinderjare het tot struikelblokke gelei wat hul verhoudings met hulself en met ander
negatief beInvloed. Gevolglik is die geestesgesondheid van hierdie volwassenes nie
bevorder nie en kon heelheid nie ervaar word nie. Hierdie navorsing het gelei tot die ontwikkeling van 'n model vir opvoedkundige
sielkundiges om, tydens die proses van fasiliterende interaksie, volwassenes wie se
ouers tydens hul kinderjare geskei is, tot heelheid te begelei ten einde
geestesgesondheid te ervaar.
Die ontwikkeling van die model het in vier stappe geskied. In Stap 1 is konsepte
geldentifiseer, gedefinieer en geklassifiseer nadat die veldwerk afgehandel is. Guba
se model is oorkoepelend gebruik om vertrouenswaardigheid in die kwalitatiewe
metodologie te verseker. Dit verwys na die geloofwaardigheid, oordraagbaarheid,
vertroubaarheid en bevestigbaarheid van die navorsing. In Stap 2 is die
verhoudingstelling van konsepte gedoen, waarna Stap 3 gevolg het, wat die
beskrywing van die model behels het. Riglyne om die model te operasionaliseer is in
Stap 4 gestel. Stappe 3 en 4 is geIntegreer en is nie afsonderlik bespreek nie. Die
model is gerig op die begeleiding aan volwassenes wie se ouers tydens hul
kinderjare geskei is, deur die proses van fasiliterende interaksie. Tydens hierdie
proses word die volwassenes begelei om die struikelblokke wat die egskeiding
gelaat het, te identifiseer, hulle persoonlike hulpbronne optimaal te ontwikkel en
hulle ware self te ontdek, tot persoonlike insig te kom en outonomie te verkry ten
einde heelheid te ervaar en geestesgesond te leef.