Abstract
Hoër onderwys in SA ondergaan tans ingrypende veranderinge. Groter
toeganklikheid, veranderinge in die demografiese profiel van leerders en
diversiteit asook die samesmeltings tussen verskeie hoër onderwysinstellings het
die landskap van hoër onderwys beïnvloed. Die proses van transformasie en die
gepaardgaande paradigmaskuif na uitkomsgebaseerde onderwys hou verskeie
implikasies vir die assessering van leer in.
Die doel van die studie is om ‘n assesseringsraamwerk vir die vakgebied
Menslike Hulpbronbestuur aan universiteite van tegnologie (voorheen
technikons) wat kontakonderrig verskaf, te ontwikkel. Met hierdie doel voor oë, is
‘n omvattende literatuurstudie oor assessering gedoen. Dit het gedien as ‘n
teoretiese grondslag vir die assesseringsraamwerk.
‘n Kwalitatiewe benadering tot die studie is gevolg. Fokusgroeponderhoude met
die leerders en dosente aan verskillende universiteite van tegnologie is gevoer.
Dit is opgevolg met individuele onderhoude met die departementshoofde en
beleidsmakers (dekane en vise-rektore). Deelnemers in die industrie wat direk
werk met die leerders gedurende hulle tydperk van ervaringsleer as deel van
koöperatiewe onderwys in die werkomgewing, is ook genader.
Temas oor die verskillende datastelle is ontwikkel waaruit verskeie implikasies en
bevindinge na vore getree het en geïnterpreteer is. Van die vernaamste
bevindinge dui op die strategiese en oppervlakkige leerbenadering van die
leerders; oorbeklemtoning van praktiese bevoegdheid ten koste van toegepaste
bevoegdheid asook die onderbeklemtoning van kontinue assessering en die
onderbeklemtoning van formatiewe assesseringsmetodes. Groot klasse lei
daartoe dat die dosente en departementshoofde assesseringsmetodes kies wat
maklik toegepas kan word en wat in die verlede sukses getoon het. Wanneer
groepassessering toegepas word, verkies die dosente dit dat die leerders die punte toeken. ‘n Gebrek aan assesseringskriteria lei tot onsekerheid oor wat
gedoen moet word in take en in die industrie tydens ervaringsleer. Volgens die
data is die industrie ten gunste van betrokkenheid by die assessering van
ervaringsleer. Hulle benodig uitkomsgebaseerde riglyne vir die assessering
daarvan.
Na die eksplisitering en integrasie van al die datastelle, is die
assesseringsraamwerk vir Menslike Hulpbronbestuur ontwikkel. Dit sluit ‘n doel
en omvang, rasionaal, begripsverklaring, rigtinggewende beginsels en die
praktiese implementering daarvan en aanbevelings of voorvereistes waaronder
die raamwerk geïmplementeer kan word, in. Die raamwerk gee erkenning aan
toegepaste bevoegdheid, assessering wat ‘n integrale deel van leer vorm en
praktiese metodes soos oopboekassessering, gevalstudies en aanbiedings.
Metodes van assessering wat tot dusver nagelaat is soos joernale, portefeuljes,
uitstallings en plakkaataanbiedings is ingesluit in die raamwerk. Variasie in die
toepassing van spesifieke assesseringsmetodes word aanbeveel. Die industrie
dien as ‘n vennoot in die assessering van die leerders. Die studie eindig met
voorstelle rakende verdere navorsing.
Prof. H.C. Geyser