Abstract
Verskeie faktore, finansieel en nie-finansieel, kan die opbrengs op
winkelsentrum-beleggings beïnvloed. Hierdie faktore is egter nie almal ewe
belangrik nie. Sommige, byvoorbeeld die huurdersamestelling, kan ‘n
wesenlike impak op die finansiële resultate hê. Ander faktore is
onbeheerbaar, byvoorbeeld die inflasiekoers.
Die bestuur en bestuursagente van winkelsentrums het bepaalde doelwitte
wat hulle moet bereik. In die geval van ‘n kommersiële eiendom soos ‘n
winkelsentrum is dit heelwaarskynlik maksimering van die markwaarde
(toekomstige kontantvloeie).
Ten einde die gestelde doelwitte te bereik, moet die bestuur:
• weet watter faktore die opbrengs van die winkelsentrum kan beïnvloed
• beheerbare, halfbeheerbare en onbeheerbare faktore kan identifiseer
• dié faktore wat die grootste impak op opbrengs kan hê, kan identifiseer
• bewus wees van die verwantskap tussen die verskillende faktore
‘n Lys van 133 subfaktore wat die opbrengs op winkelsentrums kan beïnvloed
is geïdentifiseer. Hierdie fakore is in die volgende vyf hoofkategorieë ingedeel:
• ligging
• ekonomiese omstandighede
• bestuursstrategie
• huurderverwante aangeleenthede
• verbruikersverwante aangeleenthede
Hierdie raamwerk dui aan watter faktore die opbrengs van winkelsentrums
kan beïnvloed, hoe belangrik elke faktor is, en in watter mate die faktore
beheerbaar is al dan nie.
Prof. A. Boessenkool